Simboliek

Skoolwapen

Die oorspronklike skoolwapen

Die skoolwapen is in die tweede kwartaal van 1957 deur 'n graad 12-leerling, Ann Francis, ontwerp. Hierdie wapen het Hoërskool Kempton Park se kenteken geword.

Die wapen bestaan uit 'n skild wat die Kempies se geloof in die toekoms en in hulself simboliseer. Die boonste linkerhelfte van die skild is uit 'n ougoudkleurige heuningkoek en 'n by saamgestel. Dit simboliseer die strewe van die skool om planmatig te werk. Die onderste regterhelfte van die skild bestaan uit 'n vlieënde, silwerkleurige duif teen 'n donkerblou agtergrond. Die duif simboliseer vredeliewendheid en verstandigheid.

Aan die bokant van die skild is 'n geopende boek wat studie en kennis versinnebeeld en om die boek en aan die kante van die skild is ougoudkleurige krulle aangebring.

Die skoolwapen is op 27 November 1961 onthul. Die onthulling is deur Mnr JB van Biljon hanteer. Hy het ook die koper replika van die wapen geskenk.

Die veranderde skoolwapen

Die skoolwapen is gedurende 1971 by die Buro vir Herhaldiek geregistreer nadat sekere herhaldiese veranderings aangebring is om aan die vereistes te voldoen. Mnr WPC Snyders, die hoof in daardie stadium, het dit pragtig verwoord: "Die wapen is nuut getooi soos 'n vlinder voor sy eerste vlug."

Die volgende veranderings is aangebring:

  • Die krulle langs die boek en aan die kant van die skild is verwyder.
  • Die boek rus nou op 'n basis.
  • Die twee helftes van die skild word deur 'n soliede ougoud-streep geskei wat skuins oor die skild aangebring is.
  • Beide dele se agtergrond is donkerblou met 'n ougoud by en duif wat daarop aangebring is.

Dit was 'n vereenvoudigde vorm van die oorspronklike wapen en het groot byval by die betrokkenes gevind.

Skoolleuse

Die leuse is deur me E Steyn, 'n administratiewe personeellid, voorgestel en is positief deur die ouer- en skoolgemeenskap ontvang.

"Daar's Werk" - Dit weerspieël steed die Kempies se ingesteldheid.

Erekode

Ek erken dat ek as jong Christen, as jeugdige lid van my nasie, as leerling van Hoërskool Kempton Park en as individu, besondere verpligtinge het teenoor my Skepper, my vaderland, my ouers, my medemens en my skool.

In my gedrag en in my werk en wandel, strewe ek doelbewus om my Skepper, my volk en my naaste met onvervalste trou te dien.

Ek doen elke dag my bes om aan die hoë verwagtinge te voldoen wat my ouers en my onderwysers van my koester. Ek lê my daarop toe om al die moontlikhede wat in my skuil sodanig te ontwikkel dat ek eendag 'n bruikbare en eerbare volwasse lid van my volk en die samelewing kan word.

Ek stry met alle mag teen die verkeerde wat in my skuil en ek glo aan die beoefening van innerlike selfdissipline. Ek weerhou my van deelname aan enigiets wat 'n skadelike uitwerking mag hê op die ontwikkeling van my karakter en persoonlikheid.

Teenoor my ouers betoon ek elke dag dankbaarheid, gehoorsaamheid, welwillendheid en hulpvaardigheid. Ek tree beleefd en hoflik op teenoor my onderwysers en my meerderes en lewer elke dag bewys van lojaliteit teenoor my skool.

Ek streef daarna om vriendelik op te tree teenoor almal met wie ek in aanraking mag kom en om eerlikheid, getrouheid en opregtheid te beoefen.

My woord is my eer. Ek pak die werk wat aan my opgedra is met alle krag aan en voer dit met geesdrif uit. Aan my Skepper en aan sy Woord gee ek die ereplek in my lewe.

Skoollied

Die woorde is in 1960 deur Annette Smit geskryf en deur J van Biljon en me D le Roux getoonset.

  • Daar is werk vir Kemptonparkers dis ons leuse sonder meer. Ons sal strewe te gehoorsaam aan ons skool se faam en eer. As die vrugtebome uitbot voel ons weer opnuut die gees van die jeug hier in ons harte sal ons almal werksaam wees. Dis ons eie Alma Mater wat ons altyd trou wil dien. In ons hart en gees en lewe op die voorgrond steeds wil sien.

Die woorde is egter in 2002 deur die skoolbestuur aangepas.

  • Daar is werk, dit is ons leuse. En as een staan ons dan saam, Ons sal strewe te gehoorsaam aan ons skool se eer en faam. As die lenteblare groen word, voel ons weer opnuut die gees, van die jeug hier in ons harte, sal ons altyd werksaam wees. Die ons eie Alma Mater wat ons altyd trou wil dien. In ons hart en gees en lewe op die voorgrond steeds wil sien.

Amptelike skooldrag oor 50 Jaar

Die skooldrag was nie altyd prakties nie en sekere aanpassings is oor die jare gemaak. Die seuns het aanvanklik wit hemde en grys lang- of kortbroeke gedra. Die skooldas en baadjie was egter verpligtend en is altyd gedra. Hierdie drag is egter later met 'n grys safaripak vervang.

Die dogters het donkerblou springjurke, wit hemde, 'n gestreepte gordel, das, wit sokkies in die somer en lang swart kouse in die winter gedra. 'n Donkerblou skoolbaadjie met ougoud strepe was verpligtend.

Die springjurk is in 1968 met 'n rok, gemaak van blou blokkies materiaal, vervang. Hierdie rokke het as "butchers" rokkie bekend gestaan en is in 1972 deur die matriekdrag as amptelike skooldrag vervang. Die is tans nog die amptelike dogtersdrag.

Tans dra die seuns 'n grys lang- of kortbroek saam met 'n goudkleurige langmou- of kortmouhemp. Die kortmouhemp word sonder 'n das gedra, terwyl die das verpligtend saam met die langmouhemp is. Die leerlinge kan dan kies tussen die dra van 'n skooltrui, skoolsweetpakbaadjie, skoolwindjakker of die amptelike baadjie. Die leerlingraad dra wit hemde. Die dogters het gedurende beide seisoene 'n keuse tussen 'n donkerblou romp of 'n donkerblou langbroek. Daarby dra hulle donkerblou sokkies met geel strepe. Verder is alle skooldragvoorskrifte ook van toepassing op die dogters.

Strofe oor skoolkleure

Dit is in 1957 deur mnr JJ Bezuidenhout geskryf. Hy was die visehoof, maar hy het ook as hoof waargeneem :

  • Geklee in ougoud, sierlik geweef in donkerblou, In onsself glo ons vas, Op die toekoms ons vertrou, In wandel, werk en spel, In alle pligte so getrou, Sal ons met kennis verwerf, ook die dure vrede behou, Geluk met al ons werk, Lendene omgord, Bereik ons die merk, Kempton Park Hoër, Wees sterk, Wees wakker, Wees getrou, Daar's werk.

Herdenkingsmonument

'n Herdenkingsmonument is in 2006 as deel van die 50 jartige feesvieringe in gebruik geneem. Dit is deur mnr M Wald ontwerp en deur mnr B Bouwmeesters vervaardig.

Die simboliek is soos volg vervat:

Energie

  • Voetstuk - Ons opvoeding vorm die basis van die volwasse lewe.
  • Seshoekige middelpunt - Simbool van leergierigheid en selfondersoek.
  • Beweging in alle rigtings - Almal het omvattende talente en vermoëns. Verskillende individue het verskillende talente en moontlikhede.
  • Hardloop - Energie verseker prestasie. Liefde vir wat ons doen, ondersteun en deursettingsvermoë.