2010 was 'n "rustiger" jaar vir die koor aangesien daar a.g.v. die Wêreldbeker geen ATKV-Applouskompetisie was nie. Dit het ons egter nie weerhou om weereens puik te presteer nie.
Die koor het uit 75 lede bestaan. Ons het optredes by die plaaslike ouetehuis gehad en by die Gereformeerde Kerk in Veldstraat tydens 'n erediens opgetree.
Ons het vir die eerste keer 'n baie geslaagde hoërskole- en laerskolekoorfees gereël met kore van Garsfontein en Concordia as besoekers. Die was 'n reuse sukses.
Ons neem weer deel aan die Oos-randse Jeugkoor se hoërskolekoorfees en watter fees was dit nie! Tydens die Kempton Park se Kunswedstryd verwerf ons twee prestige-sertifikate en word as trofeëwenners aangewys. In die Segarona-kunswedstryd wen ons die distriksuitdunne en wen die provinsiale kompetisie met 94%.
Ons bied 'n uiters geslaagde gala-aand aan met Wiehahn Francke as gaskunstenaar en die graad 12 koorlede wat hulle talente met ons deel.
Die kooraudisies vir 2011 is reeds afgehandel en die koor vir 2011 bestaan uit 100 lede! Ons bars nou uit ons nate! 'n Opwindende 2011 lê voor met deelname aan die ATKV-Applous kompetisie en 'n toer na die Noord-Kaap en Namibië gedurende die Junie-Vakansie. |